Wanneer Jy Jouself Mis
Een van my gunsteling dinge om te sê, is: “Onthou, jy kies dit wat jy nie verander nie.” Ek sê dit dikwels wanneer ek iemand hoor kla oor ’n veranderbare situasie, maar niks daaraan doen nie. En ek herinner myself daaraan wanneer ek vasgevang voel in ’n frustrerende, aanhoudende situasie.
Dis ’n bitter sin om aan te kou. Elke keer wanneer ek daaraan dink, kan ek sommer die “Maar, maar, maar…” in my binneste hoor borrel.
Die waarheid is, ons wil nie noodwendig vrede maak met ’n situasie nie, maar ons hou ook nie altyd daarvan om die verandering self te moet maak nie. Dis soms makliker wanneer die bal nie aan ons kant van die baan lê nie. As ons nie weet hóé nie, of nie self verantwoordelik wil wees nie, gee ons dit graag oor aan iemand anders. Tot daardie persoon natuurlik ook nie weet wat om te doen nie, en die bal net daar los. Dit was immers nie húlle probleem nie… en dan verander niks nie.
Dis byvoorbeeld wat gebeur wanneer jy jou gewigsverlies heeltemal op ’n dieetkundige of groepleier laai. Of wanneer jy jou geluk jou lewensmaat se verantwoordelikheid maak. En as die resultate dan nie kom nie, kan jy jouself ‘n rat voor voor jou oë draai deur te sê dat dit nie deur jou toedoen was nie.
My gesukkel met slaap hierdie jaar voel of dit hierdie tema aanraak. Al het ek hard probeer om dit self uit te werk, het ek dikwels gehoop iemand anders kan dit vir my oplos. Maar dit het nie gebeur nie. Ek dink nie iemand weet hoe om te help nie… So hier staan ek en staar na die bal wat net daar lê. En dis aanloklik om dit net te los en te sê: “Ek weet nie meer wat om te doen nie; hopelik sorteer dit self uit.”
En toe nou verlede week, toe ‘n vriend vinnig ‘n draai kom maak het en ek agterna ‘n kort dankie gestuur het, kom die antwoord: “Ek mis jou.”
Wat my verbaas het was nie die woorde nie, maar die terugantwoord in my gedagtes: “Ja, ek mis myself ook.”
Ek mis die weergawe van my wat verfris wakker geword het. Wat genoeg energie gehad het vir hardloop, vir werk, vir my gesin — en selfs nog ’n bietjie oor. Wat nie elke dag rus moes inbou net om te oorleef nie. My energie is kosbaar, maar dit voel soos water wat deur my vingers glip. Ek kan dit nie vasdruk en hou nie.
Maar mis ek myself genoeg om daardie bal weer op te tel? Ja. Ek weet nog nie presies hóé ek dit gaan speel nie, maar ek weet ek móét.
Watter balle lê daar op jou baan wat jy self weer moet optel en begin speel?

