Wat Is Werklik Waar?
Vir iemand wat hou van planne, duidelikheid en rigting, het die afgelope paar weke baie ongemaklik gevoel.
My dogter is nie gesond nie, en ons het nie duidelike antwoorde op hierdie stadium nie. Dalk is dit niks. Eintlik, dis baie onwaarskynlik dat dit niks is nie; ons weet eenvoudig nog net nie hoe ernstig dit is nie — en daardie onsekerheid het ’n manier om op die oomblik in die agtergrond van alles te bly hang.
Ek het weereens besef hoe baie ek daarvan hou dat dinge meetbaar, gedefinieer en voorspelbaar is. Ek hou daarvan om te weet waarmee ek te doen het, en wat volgende gaan gebeur. Om nie te weet nie voel soos om sonder ’n kaart gestrand te wees.
En miskien is dit ook hoekom ek die laaste tyd nie juis reflektief gevoel het nie. Die enigste ding wat wel so ’n paar gedagtes geroer het was iets wat ons afrigter onlangs gedeel het:
Fiksheid is nie gelyk aan spoed nie.
Ek begryp dit, werklik ek doen.
Maar terselfdertyd kan ek nie help om op te merk hoe spoed gebruik word om fiksheid te meet nie. Nommers soos VO₂ max en VDOT — wat baie van ons noukeurig dophou — is gebaseer op hoe vinnig ons kan hardloop. En selfs al word ander faktore in ag geneem, staan spoed nog steeds reg in die middel van hoe fiksheid gemeet word.
En dit is baie frustrerend.
Want, ten spyte van konsekwente oefening oor jare — kragoefeninge, baansessies, kort versnelling sessies, en al die dinge wat ons “veronderstel” is om te doen — het my spoed nie werklik verbeter nie. My horlosie gee my nog dieselfde VO₂ max as jare gelede. My VDOT staan ook basies stil.
Dis moeilik om nie te voel ek staan self ook stil nie.
En dis hoekom ek vashou aan ’n herinnering van ongeveer vyftien maande gelede.
Ek was in die hospitaal opgeneem vir ’n spinnekopbyt wat oopgemaak en gedreineer moes word. Voor die prosedure, as deel van die standaard vraelys, was ek gevra of ek oefen. Ek het gesê dat ek hardloop.
Agterna het die chirurg vir my ’n storie vertel wat ek sedertdien nie vergeet het nie.
Klaarblyklik, terwyl ek onder narkose was, was die teaterpersoneel besorg gewees oor ’n baie lae rustende hartklop (soos in die dertigs laag). Hulle was oortuig dat daar iets verkeerd was. Die dokter en narkotiseur het hulle egter gerus gestel dat daar nie fout was nie — my hartklop was so laag as gevolg van my fiksheid.
Sy het my later gesê dat sy nie kan onthou dat sy al ooit ’n pasiënt gehad het wat so fiks soos ek was nie. Vir my was dit een van die mooiste goed wat iemand al ooit vir my gesê het. Die storie moes ’n impak op haar gemaak het, want sy het my dit weer vertel by my opvolg afspraak.
In ’n wêreld waar my fiksheid gedefinieer — en beperk — word deur nommers op ’n horlosie, staan hierdie herinnering vir my uit.
Want daar was geen nommers in daardie teater nie. Geen pas, geen VO₂ max, geen VDOT. En ek was nie eers self wakker om te getuig van wat ek kan doen nie.
En tog was my fiksheid onbetwyfelbaar.
En dit laat my wonder hoe baie ons op nommers staatmaak wat maar net ’n deel van die waarheid vertel.
Ons soek nommers, want hulle bring sekerheid. Dit laat dinge onder beheer en verstaanbaar voel. Maar nie alles kan gemeet of gekwantifiseer word nie.
Op die oomblik, wat my dogter aanbetref, het ons nie duidelike antwoorde nie. Daar is nie nommers om aan vas te hou nie. En dis moeilik vir iemand soos ek.
Maar miskien is dit dieselfde les, net in ’n ander konteks.
Nie alles werklik is meetbaar nie. En nommers reflekteer nie altyd die werklikheid nie.
Ek kyk nog steeds wat my horlosie sê. En ek wens nog steeds dat ek vinniger was. En ek sukkel nog steeds met onsekerheid. Maar ek dink ek het nou iets anders ook besef, dat die waarheid daar is — selfs wanneer die nommers dit nie wys nie.
Wat in jou lewe is waar… selfs al meet dit nie so nie?
#MeerAsNommers #Onsekerheid #WatWerklikSaakMaak #VertrouDieProses #OnsienbareVordering

