Een vir Een, Vlieg Hulle
Daar was die afgelope tyd soveel tekens dat ek baie vinniger ouer word as wat ek graag sou wou. En ek voel reeds ’n bietjie selfbewus daaroor, want ek probeer my grys hare uitgroei… ja, alweer. Dit is tans in daardie aaklige stadium waar dit so aanloklik is om dit net weer te gaan kleur.
Ons het hierdie afgelope naweek my 45ste verjaardag gevier, wat later die week is, aangesien ek vir die grootste deel van hierdie komende week in Kaapstad gaan wees. Ek het besluit om tydens die vierringe ’n glas wyn te drink. En dít het glad nie goed gegaan nie. Ek het amptelik die ouderdom bereik waar enige alkohol chaos veroorsaak met my slaap en HRV.
Ek het ook hierdie naweek landloop gehardloop. My jongste seun het saam met my deelgeneem. Daarna was hy op Peak Timing ons tye gaan soek, maar hy kon nie my uitslae op die stelsel kry nie. Dit blyk toe hy het in die verkeerde ouderdomsgroep gekyk. Ek het natuurlik nou aanbeweeg na die 45–50 ouderdomsgroep. Hoe is dit moontlik?
Die teken wat my die hardste getref het was egter dié:
My oudste seun het na Nigerië gereis om aan die Afrika Kontinentale Baanfietsrykampioenskappe deel te neem. Ek weet een van die grootste doelwitte van ouerskap is om onafhanklike kinders groot te maak. Maar besef jy hoe hard dit jou tref wanneer jy agterkom jou kind kan eintlik op ’n vliegtuig klim en internasionaal reis sonder dat jy enigiets hoef te teken? Hy het nie eens meer sy geboortesertifikaat nodig om te reis nie.
En hy is maar net die eerste van my kinders wat nou daardie punt bereik het.
Een vir een gaan hulle vlieg — sommige letterlik — en hulle vlerke sprei totdat hulle almal uiteindelik hul eie koers inslaan. En al maak dit my ongelooflik trots, maak dit my ook bang.
Om oud te word is ’n voorreg wat baie mense nooit gegun word nie. Dit is die besef en die raaksien daarvan wat nie altyd soos die grootste voorreg voel nie.
Intussen moet ek ook aanhou leef vir myself en my eie drome en doelwitte bly najaag. Hierdie naweek is dit die Kaapstad maraton! Ek gaan dus hierdie komende Sondag my vyfde maraton hardloop. Ek hoop dinge verloop sommer baie goed — hou asseblief duimvas vir my.

