
Om vir ’n “Kwêk! Kwêk!” te vra
So nou en dan tref ek ’n muur. Dit voel asof ek al alles probeer het, die probleem van elke moontlike hoek af benader het, en asof net mooi niks werk nie. Die probleem voor my voel swaar en onoplosbaar — ek brand vas.
Teen dié tyd het ek geleer dat die uitweg nie altyd is om harder te probeer nie. Soms is dit eerder om te praat. Hardop te praat.
’n Kollega het my jare gelede dit op die oulikste van maniere gewys: hy het ’n plastiek eendjie bo-aan sy rekenaarskerm vasgeplak gehad. Wanneer hy ook al vasgebrand het en ’n probleem nie kon ontrafel nie, maar niemand van ons beskikbaar was nie, het hy sy probleem aan die eendjie verduidelik — ’n vreemde ding om eerstehands te beleef! Maar tog, meer kere as nie, kon hy dit reg kry om homself só uit die probleem uit te praat.
Ek en my man het dié gewoonte by hom oorgeneem. Beide van ons is sagteware ingenieurs, en omdat ons ’n kantoorruimte deel skep dit die perfekte omgewing vir ons om probleme tussen mekaar te kan uitpluis. Wanneer dit dan ook wel so gebeur dat een van ons ’n probleem só oplos, sal die ander ene gewoonlik met ’n speelse “Kwêk! Kwêk!” terugantwoord. Laf. Ja, ek weet — maar dis dié goed wat ons in ons oudag gaan bybly.
Verlede week het ek myself weer met so ’n probleem gevind — net nie ’n programmering probleem nie. Twee aande van swak slaap, ná ’n handjie vol weke waartydens dit nie te sleg gegaan het nie, het my gedagtes laat maal: wat as my slaaploosheid weer terugkom? Ek het gevoel asof ek al alles probeer het en geen meer opsies oorgehad nie.
So toe gaan praat ek met my hardloopafrigter… Nie om ’n oplossing te verwag nie, maar eerder om iemand te hê met wie ek die hele storie kon deurpraat. Ná afloop van ons gesprek het ons nou nie ’n oplossing bereik nie, máár ons het wel aan twee dinge gedink om volgende te probeer. Dit het nie meer vir my gevoel asof ek met my rug teen ’n muur gestaan het nie. En, dalk meer belangrik, ek het ook nie gevoel asof ek die probleem alleen in die gesig moes staar nie.
Daar is krag daarin om ’n probleem hardop te verwoord en iemand anders deur jou gedagtes en redenasies te neem. Nie alleen skep dit spasie en perspektief om die knoop uit te pluis nie, dit bou ook konneksie en nooi ander in jou wêreld in — selfs al voel die onderwerp sensitief.
Dink jy dit is belangrik om hardop deur probleme te kan praat? Is dit iets wat jy reeds doen? En, indien nie, wat maak dit moeilik?
#NieAlleenNie #VraVirNOor #PraatDitDeur #Ontknoop #KwêkKwêk