
Die Haarrekkie
Verlede week het my dogter ’n haarrekkie in haar hare laat koek. Maar nie net effens gekoek nie — behoorlik kraaines gekoek. Ek het liggies probeer trek. Ek het dit met my vingers probeer uitpluis. Ek het die koek van verskillende hoeke af benader. Maar niks wou werk nie. Gefrustreerd het sy voorgestel dat ons dit eerder uitsny. Jy kon my met ’n veer omtik. Sy is uiters trots op haar lang blonde hare, ek sal selfs sê beskermend daaroor. Die laaste persoon wat ek verwag het sou voorstel dat ons iets daaruit sny, was sy. ...








