Mart-Mari Breedt is ’n skrywer, sagteware-ingenieur en gelukkig getroude ma van vier. Vir die grootste deel van 38 jaar was sy oorgewig – ernstig vetsugtig. Maar oor byna drie jaar het sy 80 kg verloor en haar teikengewig in Desember 2019 bereik.
Kort nadat sy haar teikengewig bereik het, het sy ontdek dat dit nie alles is wat dit voorgehou word om maer te wees en te bly nie. Sonder ’n doelwit om na te streef, en met slegs haar sterk wilskrag om haar deur elke dag te dra, het die instandhouding van so ’n groot gewigsverlies ’n voortdurende stryd geword tussen die begeerte om vry te leef en nie weer gewig op te tel nie. Die aanbreek van die COVID-pandemie het dit ook nie makliker gemaak nie.
Haar begeerte om ’n balans te vind tussen gewig behou en ’n vrye, onbeperkte lewe lei, het haar op ’n terapeutiese reis geneem. Uiteindelik het sy besef dat haar probleem nooit die gewig was wat sy gedra het nie. Die gewig was nog altyd bloot ’n simptoom van ’n groter probleem – een wat sy haar hele lewe lank met kos probeer toemaak het.
Mart-Mari se debuutmemoir, Tagtig Kilos Se Skuldlas, vertel die verhaal van hoe sy haar emosionele gewig verloor het. Dit is ’n diep persoonlike verhaal waarin sy eerlik haar eie reis deel, geskryf om ander te inspireer en hulle oë oop te maak vir kosverslawing en die maniere waarop mense kos gebruik om hul emosies te verdoof.
Haar memoir is insiggewend, meesleurend en aangrypend. Dit sal jou van die eerste bladsy af vasgryp en jou laat wens daar was nóg ’n hoofstuk, selfs nadat jy die bedankings gelees het.
