Ek is nie een wat vinnig hoop verloor nie. Ek hou gewoonlik aan om te probeer. Ek dink ek is meer iemand wat onrealistiese doelwitte vir myself stel. Want om aan te hou probeer en nie daar uit te kom nie, is ek nou al ’n kenner in.
Ek het nog altyd die woorde van die liedjie I’m Getting Ready deur Tasha Cobbs geglo, en ek sou gereeld daardie liedjie ’n tweede of selfs derde keer speel wanneer dit die volgende liedjie was om in my kar te speel. Maar onlangs het dit weer begin speel en my eerste instink was om te dink: Watter nonsens is dit nie, en dit oor te slaan. En dit was toe dat ek besef het dat ek iewers langs die pad hoop verloor het. Hoop om ooit ’n vinniger of beter hardloper te word. Hoop dat ek dalk eendag vinnig genoeg sal wees om vir Comrades te kwalifiseer.
Ek is heel gelukkig daarmee om elke jaar daar te kan ondersteun. En ek is dankbaar vir my afrigter wat die geleentheid vir my skep om dit te kan doen, en vir my man wat nooit ’n probleem daarmee het nie en altyd bereid is om na die kinders te kyk op sy eie vir ’n hele naweek. En alhoewel ek elke jaar agterna ’n hunkering voel om dit eendag self te kan hardloop, herinner ek myself daaraan dat dit flippen ver is, my vir ewig gaan neem, en dan voel ek weer beter vir nog ’n jaar.
Maar iewers langs die pad het ek ook opgehou glo dat ek dalk eendag sal kan.
Onlangs het iets gebeur wat my laat besef het dat daar regtig altyd hoop is.
Die van julle wat my eerste boek gelees het, sal beslis onthou van my jonger sussie se selfmoord aan die einde van 2018. Ek dink daar is min dinge erger as om iemand na aan jou op so ’n wyse te verloor. Dit is ’n aaklige ding om deur te gaan.
Wel, onlangs het my swaer, my oorlede sussie se wewenaar, aangekondig dat hy weer verloof is.
Hoe absoluut wonderlik is dit nie?
Ek is so bly vir hulle, maar veral vir hom. Ek is eintlik oorstuur van blydskap. En ek dink dis toe dat iets vir my in plek geval het.
Want as jy my in November 2018 vertel het dat ek eendag hier gaan sit en so gelukkig gaan wees dat my suster se man weer gaan trou, sou ek dit baie moeilik gevind het om te glo. Want wanneer jy in die middel van iets vreesliks staan, kan jy eenvoudig net nie so ver vooruit sien nie.
My berader het eens op ’n tyd gesê dat die uiteindelike doel met alles en enigiets nie is dat niks verkeerd moet gaan nie. Dis om eendag te kan terugkyk na wat alles gebeur het en te kan sê dat alles presies uitgewerk het soos wat dit moes.
En soms is dit moeilik om dit so in te sien wanneer jy in die middel van die chaos is. Dis moeilik om hoopvol te bly wanneer jy nie kan insien hoe dit ooit beter gaan kan uitdraai nie.
Dis amper soos ’n persoon wat besluit om om te draai omdat die mis te dik is in die vallei en hy nie die bergtop kan sien nie.
Die berg het nie verdwyn nie.
Die pad soontoe is nie weg nie.
Jy kan eenvoudig net nie so ver sien nie.
En miskien is dit wat hoop is. Nie die wete dat alles gaan uitwerk nie. Nie die geloof dat slegte goed nooit gaan gebeur nie; dit gaan. Nie eers die glo dat jy dit gaan kry waarvoor jy so hoop nie. Maar eenvoudig om ruimte te los vir die moontlikheid dat daar iets voor jou lê wat jy nie kan sien nie.
Ek weet nie of ek ooit vir Comrades sal kan kwalifiseer nie. Ek sal waarskynlik nooit nie. Miskien sal ek op ’n dag besluit dat ek vir ewig gelukkig gaan wees daarmee om almal van die kant af te ondersteun.
Maar ek wil ook nie vir myself sê dat dit onmoontlik is nie. Want iemand wat weer geluk gevind het ná iets wat onmoontlik gelyk het om van af aan te beweeg, het my iets geleer oor hoop.
Soms lê die mis in die vallei te dik om die bergtop te sien. Maar dit beteken nie dat dit nie daar is nie.
En dit beteken ook nie dat jy moet omdraai nie.
