Blog Nuusbrief
Mart-Mari Breedt  

Ruimte in ‘n Morsige Middel

Verlede week, terwyl ek in die kar gewag het vir my kinders, het my man vir my ‘n boodskap gestuur: “Ek wil weer gaan kyk na ‘n ander kar vanmiddag.” (Ons is opsoek na ‘n tweedehandse voertuig om syne te vervang, en dalk een wat ons oudste ook sal kan gebruik terwyl hy leer bestuur.)

Ek het daardie dag nie baie lekker gevoel nie, en het teruggeantwoord, “Ek wou bietjie gaan lê het wanneer ek net nou terug is by die huis.

Jy kan nog steeds,” het hy gesê.

Okei. Ek sal dan net ‘n alarm vir Adri se swem moet stel.

Omdat ek in elk geval sukkel om aan die slaap te raak — of dalk omdat ek nie lekker gevoel het nie — het ek heeltemal van die alarm stel vergeet. En, soos die geluk dit toe nou ook wil hê, het ek vir die eerste keer in maande sonder medikasie aan die slaap geraak. Dit was maar ‘n kort slapie, maar die self-aan-die-slaap-raak het vir my soos iets groots gevoel. Voor ek egter regtig die slapie kon registreer, het my jongste my kom wakker maak om haar swem toe te neem. Ek het tóé ook gesien dat my jongste seun al vyftien minute gelede ‘n boodskap gestuur het dat hulle atletiek oefening klaar was en dat ek hom moes kom haal. Ai, ek, sopas wakker gemaak van ‘n te-kort dut, het deurmekaar, moeg en oorweldig gevoel.

In die tussentyd het my man na die kar gaan kyk, onder die indruk dat ek alles by die huis onder beheer het. En wie kan hom nou blameer? Dis lanklaas sedert ek gesê het “Ek wil bietjie gaan lê,” en dan wragtig wel aan die slaap geraak het.

Dit was nou nie die ideale situasie nie… maar dit het my laat dink oor wat dit beteken om ruimte te skep vir dit wat saak maak, en wat nodig is om daardie ruimte te laat gebeur. Miskien begin dit by erkenning dat ek dit nodig het, en dan die ondersteuning om dit wel te laat gebeur.

Die volgende paar maande gaan maar morsig wees. Om te rus vir twee weke het nie my slaap verbeter nie — dis nog maar steeds swak. Ek is weer terug aan die hardloop, maar dit maak my moeg omdat ek sukkel om te herstel agv my slaap. Die sondebok is waarskynlik my verhoogde ystervlakke, wat ons besig is om te adresseer, maar dit gaan tyd neem. Dis morsig, en frustrerend, maar dis die hand wat ek het om te speel. Ek gaan op ander maniere moet leer om die ruimte te skep wat ek nodig het bv om te rus.

Wat verlede week se middagslapie my gewys het is dat om ruimte te skep beswaarlik netjies is en uitwerk soos dit moet. Daar gaan aannames, waninterpretasies en mislukkings wees. En miskien is dit die punt. Ruimte gebeur nie net sommer nie – dit word geskep, onafgerond en lomp met skewe hoeke, en nie altyd die eerste keer nie.

Wat weet jy moet jy ruimte voor skep, maar die hóé bly jou ontwyk?

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>