Bevraagteken Alles
Baie jare gelede, toe ek my leerlinglisensie geskryf het, het dinge anders gewerk as vandag: jy het eers die toets geskryf, en daarna die oogtoets gedoen. Ek onthou hoe ek gaan sit het vir die oogtoets, verlig dat ek geslaag het, toe die toetsbeampte my met ’n ernstigheid aankyk wat ek glad nie verwag het nie.
“Ek is jammer… Ek kan nie jou lisensie vir jou gee nie.”
Ek kon die knop op my maag voel. “Hoekom nie?”
“Want jy kan nie sien nie.”
Ek was sewentien toe ek geleer het dat ek al my hele lewe in ’n wêreld rondbeweeg het wat ek nie eintlik duidelik kon sien nie. Ek onthou nog toe ek my eerste brille opgesit het en na die bome buite gestaar het. Ek het daar gestaan, heeltemal stil, want vir die eerste keer kon ek die blare duidelik uitmaak. Ek het regtig gedink almal sien bome soos ek — sagte, groen wasige beelde. Die gedagte het my nooit by my opgekom dat my “normaal” dalk nie normaal is nie.
Twee weke gelede, nou op vier-en-veertig, het ek weer daardie selfde skokgevoel beleef.
Soos baie van julle weet, was hierdie ’n moeilike jaar met my slaap. Hierdie jaar het my wragtig ’n groot suurlemoen gegee om mee te werk. Toe ek onlangs by die slaapspesialis sit om alles weer deur te werk, stop sy my halfpad deur ’n sin en vra:
“Weet jy dat die meeste mense net kan gaan lê en slaap? Geen gedraaiery nie. Geen bakleiery nie. Hulle slaap net.”
Ek het dit nie geweet nie. Regtig nie. Ja, ek het al honderde kere gesien hoe my man net gaan lê en binne minute (sekondes?) slaap, maar ek het altyd gedink hy is maar net… anders — geseënd, gelukkig, spesiaal, iets.
Skielik het ek al die oomblikke in my lewe voor my gesien waar ek vas oortuig was ek is die probleem:
Wanneer ek voor ’n resies so senuweeagtig was dat ek nie kon slaap nie, het my afrigter altyd gesê dat stil lê met my oë toe net so goed is. “Probeer dit,” sou sy sê. En ek sou dink: Maar dit werk nie vir my nie.
Of al die nagte wat ek wakker lê en dink het ek moet net harder probeer. Rustiger wees. Beter wees.
En toe noem die spesialis iets wat ek al jare het, sonder om dit te wéét: rustelose bene. ’n Stil, konstante toestand wat ek net in my idee van “normaal” ingewerk het. Hoeveel keer het dokters my hierdié jaar gevra of ek rustelose bene het, en ek het vol vertroue gesê: “Nee, nooit”?
Baie keer.
Dit laat my dink aan al die kere wat ek en my suster geglo het dat, as ons net gewig kan verloor, ons lewe na die tyd weer “normaal” sal aangaan, soos dit was voor die tyd — asof ons ou normaal die “normaal” was van iemand wat ‘n gesonde gewig instand kan hou.
So nou begin ons eers aan die RLS werk. Dis early days, en dit voel meestal soos probeer-en-misluk (op die oomblik meer mislukking as sukses). Hopelik bring die nuwe jaar beter nuus.
En so — met hierdie laaste nuusbrief van 2025, terwyl ek uitsien na ’n behoorlike blaaskans — wil ek jou hiermee laat:
Bevraagteken alles.
Moet nooit aanvaar jou normaal is die wêreld s’n nie.
Daar wag dalk ’n helderder prentjie daar buite — een wat jy nie eens geweet het jy mis nie.
Ek wens jou, as jy dit vier, ’n rustige Kersfees, en ’n nuwe jaar vol duidelikheid, rus, en klein, onverwagse wonderwerke.
Sien jou in 2026 — my eerste jaar waarin ek twee maratonne aanpak. Eeek…
#BevraagtekenAlles #NormaalIsRelatief #DuidelikSien #Slaappad #JaarEindeGedagtes

