Blog Nuusbrief
Mart-Mari Breedt  

Net Ek

Dis resies week! Saterdag hardloop ek my volgende maraton.

Die ander dag het ek ’n Instagram-video gesien wat sê:

Dis altyd: “Hoekom hardloop jy so baie?”
en nooit: “By watter kilometer kan ek jou kry met snacks?” nie.

Ek moes lag. Want —  hoe waar nie?

Aan die begin van hierdie jaar, toe ons verlof beplan het, het ek genoem dat ek aan die einde van Februarie ’n maraton wil hardloop. ’n Kollega het my aangekyk en heel opreg gevra:

“Hoekom? Net… hoekom?”

Dis ’n regverdige vraag.

As jy nie self hardloop nie, kan dit moeilik wees om te verstaan. Dit lyk pynlik. Tydrowend. Onnodig. My lewe is reeds vol. Ek is ’n getroude vrou en ’n ma van vier. By die huis probeer ek om die beste vrou en ma te wees wat ek kan wees. Daar is verantwoordelikhede. Dinge om te beplan. Dinge om oor te bekommer.

By die werk is ek ’n sagteware-ontwikkelaar. Daar, alhoewel ek bitter baie lief is vir my werk, probeer ek ook om my werk so goed as moontlik te doen. Ook daar is daar verantwoordelikhede. Probleme wat opgelos moet word. Dinge om oor te bekommer.

My dae is vol van die rolle wat ek speel.

Maar wanneer ek gaan hardloop — vir daardie uur, soms drie — is ek nie ’n ma nie.
Ek is nie ’n eggenote nie.
Ek skryf nie sagteware nie.

Ek is net ek.

Niemand het iets van my nodig daar buite nie. Geen kos om te maak nie. Geen spertye nie. Geen besluite, behalwe pas en rigting. Net asem, gemaklike postuur, en die ritmiese geluid van my voete op die pad.

Maar as ek eerlik moet wees, sou dit alleen nie genoeg wees nie.

Want as ek hierdie klein, kosbare stukkie tyd kry om net ek te wees, voel ek amper verplig om dit goed te gebruik. Om te groei. Om my grense te verskuif. Om sterker te word — nie net fisies nie, maar ook geestelik.

So stel ek vir myself doelwitte.
Ek skryf in vir resiesse.
Ek werk doelbewus na dinge toe wat my effens bang maak.

Nie omdat my lewe nie reeds vol genoeg is nie.

Maar omdat groei keer dat ek stagneer. Omdat vordering — hoe klein ook al — dinge interessant hou. Omdat om te ontdek waartoe ek in staat is, my telkens herinner dat ek meer is as net die rolle wat ek speel.

En dit is hoekom ek hardloop.

Miskien is  “Hoekom?” dalk nie die regte vraag om te vra nie.

Maar die enigste regte vraag dalk eerder:

Hoekom nie?

#HoekomNie #HoekomEkHardloop #MeerAsNetRolle #Groei #NetEk

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>